Grond is ’n uiters noodsaaklike produksiefaktor vir ’n boerdery. In Suid-Afrika beloop die waarde daarvan ongeveer 60% van die totale bates wat boere moet aanwend, en in Amerika word dit op meer as 80% geraam.
Toegang tot landbougrond is dus van deurslaggewende belang vir huidige én voornemende boere se vermoë om voedsel en vesel te kan produseer. Die eienaarskap van plase verwissel egter baie stadig, daarom is die beskikbaarheid van landbougrond uiters beperk.
In Amerika kom slegs 2,3% van die totale landbougrond jaarliks op die ope mark beskikbaar. Selfs in Suid-Afrika verwissel ook net 2,6% van landbougrond hande deur middel van transaksies sonder bevoorregting. Grondeienaars hou dus vas aan wat hulle het en plase word eerder vererf as dat dit verkoop word.