Dit blyk uit twee studies waarby ’n groep internasionale navorsers betrokke was. Daarin trek hulle ’n verband tussen die destydse begin van droërysboerdery in Asië, en die daaropvolgende mak maak van hoenders. Vanuit Asië het die gebruik om hoenders aan te hou, weldra weswaarts versprei.
Gedurende die heerskappy van die Romeinse Ryk het die eet van hoendervleis en eiers gewild geword. Volgens ’n verklaring deur die Universiteit van Exeter in Brittanje weerlê hierdie studies vroeëre bevindinge waarvolgens hoenders reeds vir so lank as 10 000 jaar gelede in China, Suidoos-Asië of Indië aangehou is, en reeds vir 7 000 jaar in Europa teenwoordig sou wees.
In die nuwe studies het die navorsers die oer-oorblyfsels van hoenders wat op 600 plekke in 89 lande gevind is, ondersoek en onder meer gedateer. Talle is alleen of saam met mense begrawe, met hul lywe nog in een stuk.