Die buro vir voedsel- en landboubeleid (BFAP) het sy landbouvooruitskouing tot 2031 in Augustus gedeel. ’n Hoë staatsamptenaar van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling het in sy toespraak na die “fabelagtige BFAP” verwys.
Fabelagtig verwys na een van twee dinge: dat BFAP se uitsette buitengewoon is of dat BFAP se uitsette geen basis in die werklikheid het nie. Daar is geen twyfel wat die amptenaar bedoel het toe hy na BFAP as fabelagtig verwys het nie. In die Suid-Afrikaanse ekonomie presteer die landbousektor fabelagtig.
Hier is ’n paar hoogtepunte. Die landbousektor het in 2020 met 13,4% gegroei en in 2021 met 8,3%. In die Suid-Afrikaanse ekonomie stof die sektor al die ander sektore uit. Uitstekende produksie, hoë internasionale pryse en uitvoerpariteitspryse het ’n groot bydrae gelewer.