Die mate waartoe ’n familie by hul onderneming betrokke is, kan vernuwing op ’n unieke wyse aanspoor. Dis natuurlik nie net tot die volgende geslag se voordeel nie, maar ook gunstig vir die breër samelewing – wat ’n sterk aanduiding gee van hoe belangrik familie-ondernemings in enige bedryf is, maar veral die landbou.
“Langtermynvisie is uiters belangrik in ’n familiebesigheid, veral in die landbou- en wynbedryf, waar ’n mens eintlik ’n wingerd plant tot die volgende generasie se voordeel,” vertel dr. Edo Heyns, bestuurder van strategiese ontwikkeling en bemarking by die wynmaatskappy Advini Suid-Afrika.
Hy het vroeër vanjaar ’n doktorsgraad aan die Universiteit Stellenbosch verwerf oor konflik en vernuwing in die plaaslike wynbedryf, en tot watter mate die familie-dinamika ’n invloed daarop uitoefen.