Oesverliese op die nou reeds berugte watertafelgrond van die Wes-Vrystaat en Noordwes word totaal onderskat.
Die risiko van ’n te hoë watertafel op opbrengs het selfs in normale reënvalseisoene ’n noemenswaardige uitwerking en dit het vonk verskaf aan die kommersiële boer-broerspan mnre. Stephan en Jaro Geldenhuys van Normandien in KwaZulu-Natal om sedert 2017 ondersoek in te stel in die kerngebiede Viljoenskroon, Allanridge, Wesselsbron, Hoopstad, Leeudoringstad en Bothaville.
Gereelde lugopnames is gedoen, en gedetailleerde navorsing op twee plase, onderskeidelik naby Misgunst in Allanridge en tussen Bothaville en Hoopstad.