Die gras is beslis nie groener in Engeland nie. Jeremy Clarkson se deurlopende stryd met ’n venynige distriksraad van Wes-Oxfordshire, waar sy plaas, Diddly Squat, geleë is, het kykers van die tweede reeks van die Amazon Prime-werklikheidsreeks Clarkson’s Farm goed die hoenders in.
Sommer vroeg in die reeks kom Clarkson agter daar is geen salf te smeer aan die swetterjoel ratels op sy plaas nie, selfs al bevestig ’n karkas wat in die omgewing opgetel is, dat die kolonie met TB (tuberkulose) besmet is en ’n bedreiging vir sy beeste inhou.
Eeu oue Britse wetgewing beskerm ratels wat deesdae ’n plaag in die Cotswold-omgewing is waar Clarkson boer, of eerder, probeer boer. Britse boere is ontnugter gelaat ná leë politieke beloftes wat in die Brexit-doodsnikke gemaak is. Van die destydse premier Boris Johnson se belofte dat die Britse regering sy boere ná Brexit sal aanhou ondersteun, kom daar nou dadels.