Dit het ook vasgestel dat die verwydering van die indringers tot besparings kan lei, luidens ’n artikel deur dr. Alanna Rebelo van die Landbounavorsingsraad en kollegas van die universiteite van Stellenbosch en Kaapstad op die webblad The Conversation Africa.
Volgens die navorsers se modelle kan die skoonmaak van opvangsgebiede wat met volwasse indringerbome oortrek is, stroomvloei met 15,1% tot 29,5% verbeter.
Dié skoonmaakaksie het ’n veel groter impak op stroomvloei wanneer bome uit riviere self, pleks van net uit aangrensende gebiede, verwyder word. Bome wat in riviere staan, het toegang tot ’n bykans eindelose hoeveelheid water en gebruik daarom ook meer water.