Navorsing hieroor in die vaktydskrif G3: Genes, Genomes, Genetics deur die Universiteit van Georgia is die eerste oor dié onderwerp. Die Amerikaanse navorsers het Aspergillus fumigatus en middels wat daarteen gebruik word, bestudeer.
Die swam kom algemeen in die omgewing voor. Die meeste mense asem dit dikwels in sonder om iets oor te kom, maar dit is nie goeie nuus vir mense met verswakte immuunstelsels nie.
Jaarliks doen sowat 300 000 mense wêreldwyd byvoorbeeld ’n potensieel dodelike longinfeksie, aspergillose, op. Besmettings by mense én plante word met ’n soort azoles-samestelling beveg.