Twee-en-twintig jaar voor Jan van Riebeeck die verversingstasie van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanje in Tafelbaai kom stig het, het ’n ander pionier aan die ander kant van die wêreld voet aan wal gesit.
Dit was in die jaar 1630 dat Geoffrey Massey in Salem, Nieu-Engeland, as kolonis in Amerika aangekom het. In daardie jare in die Nuwe Wêreld was die trek net so ’n gevaarlike onderneming soos in Suid-Afrika, maar Massey en sy nasate het aan vier trekke deelgeneem, wat hulle altyd weswaarts na ’n nuwe land gevoer het tot hulle eindelik in 1800 op die oewer van die Ontario-meer in Kanada tot rus gekom het.
Soos die Voortrekkers het die Massey-familie hul huisraad, ’n klompie beeste, jukosse en die nodigste plaaswerktuie saamgeneem. Hierdie werktuie was lomp en moeilik om te hanteer, iets wat Daniel Massey, een van Geoffrey se nasate, baie gehinder het.