Indien die raad van trustees nie die reëls volg met betrekking tot hoe ’n trust geadministreer behoort te word nie, soos deur Suid-Afrika se howe en wetgewing neergelê, sal daar later ook nie op die voordele en beskerming wat ’n trust bied, staatgemaak kan word nie.
Daar word deesdae vereis dat familietrusts minstens een onafhanklike trustee (nie ’n begunstigde of ’n familielid van ’n begunstigde van die trust nie) moet hê. Dit is ook belangrik om te onthou dat ál die trustees, ook die onafhanklike trustee, aktief behoort deel te neem aan die administrasie van die trust.
Die onafhanklike trustee behoort dus op die hoogte te wees van die trust se aangeleenthede. Daar bestaan in die plaaslike reg nie iets soos ’n rustende trustee nie. Indien jy ’n trustee is, rus daar baie pligte en verantwoordelikhede op jou.