
Verlede jaar, op 14 April, het Zeder sy aandeelhouers ingelig dat die maatskappy deur verskeie derde partye genader is wat belang stel in sy bates. Zeder het sedertdien sy belang van meer as 98% in The Logistics Group verkoop en ook einde Februarie aangekondig hy gaan sy aandele in Kaap Agri aan aandeelhouers ontbondel. ’n Spesiale dividend van 92,5c sal in Mei aan Zeder se aandeelhouers uitbetaal word.
Zeder het gister (12 April) aangekondig die omsigtigheidsaankondiging oor moontlike verdere transaksies word vir eers teruggetrek.
“Daar is nooit ’n besluit geneem om al ons bates te verkoop nie. Hoewel die direksie nog in gesprek is met derde partye, is sekere finansieringsvoorwaardes en sleuteloorwegings tans onseker. Ons verwag nie enige transaksie binnekort nie. Sodra iets verander, sal ons die mark inlig, maar die direksie oorweeg verskeie opsies om welvaart te vergroot,” het mnr. Johan le Roux, uitvoerende hoof van Zeder, op die jaarvergadering gesê.
‘Goeie waarde ontsluit’
“Ons oorhoofse strategie bly om welvaart vir Zeder se aandeelhouers te skep.”
Zeder se beleggingsportefeulje was teen die einde van sy finansiële jaar (28 Februarie) R6,43 miljard werd.
Volgens Le Roux het Zeder die afgelope jaar “goeie waarde” vir sy aandeelhouers ontsluit.
“Die groep het sowat R7,3 miljard aan aandeelhouers uitbetaal oor die afgelope drie jaar. Dit was deur spesiale dividende van R3,43 per aandeel en ’n bykomende R1,03 per aandeel ten opsigte van die onlangse Kaap Agri-ontbondeling ná die afhandeling van die spesiale dividend van 92,5c in Mei.”
Le Roux het gesê ná die uitbetaling van die dividend sal Zeder sowat R438 miljoen kontant in die bank hê.
Hoekom nie ’n groter dividend nie?
“Hoekom so baie en hoekom betaal ons nie ’n groter dividend uit nie? Ons is versigtig, want ons bevind ons steeds in die covid-19-pandemie en weet nie hoe die konflik tussen Rusland en die Oekraïne gaan afloop nie. Hoewel die maatskappye in ons portefeulje tans goed presteer, wil ons in ’n posisie wees om hulle te kan help as dit nodig is.”
Zaad is tans die grootste belegging in Zeder se portefeulje. Ander maatskappye in die portefeulje sluit in K2, Bakker Brothers in Nederland, Farm Ag, May Seeds in Turkye, East African Seeds, Agricol, Seedcor en Hygrotech. Zeder besit ook aandele in Capespan.
“Die prestasie op die druiwe-, vrugte- en sitrusplase was skitterend ten opsigte van volumes, maar covid-19, hoër koste en laer pryse het groot probleme in die varsproduktebedryf meegebring. Die probleme in die verskaffingsketting het boere R15 tot R20 per kartonhouer gekos, wat betekenisvol is. Probleme met gehalte het ook gelei tot laer pryse en die probleme in Rusland het ’n ooraanbod op sekere markte beteken. Ons het baie belê in die plase. Dis jammer dat die probleme in die verskaffingsketting die besighede se winsgewendheid geknou het.”
Le Roux het gesê hoewel landboutoestande grootliks gunstig is, sal die covid-19-herstel en implikasies van die konflik tussen Rusland en Oekraïne die maatskappy se portefeulje raak, asook inflasiedruk en wêreldwye probleme met verskaffingskettings.
“Zeder is egter goed geposisioneer met ’n stabiele balansstaat en kontanthulpbronne.”