
“Dit is ’n strategiese vennootskap, maar ook ’n aandele-belegging in die wyn, landbou en handelsmerk,” het mnr. Phillip Retief, besturende direkteur van Van Loveren, aan Landbouweekblad gesê.
“Dis ‘n 50/50-samewerkingsooreenkoms. Van Loveren gaan die wyn en landbou oorneem, terwyl Blaauwklippen die toerisme-, eiendom-, restaurante- en funksie-afdelings (events) sal hanteer. Dis ‘n inisiatief waaraan ons al ‘n rukkie lank werk en dit bied ‘n lieflike toerisme- en handelsmerkgeleentheid vir Van Loveren,” sê Retief.
Die Blaauwklippen-landgoed dateer uit 1682, wat dit die oudste wynplaas op Stellenbosch maak. Dit het veral in die 1980’s en 1990’s baanbrekerswerk gedoen om ’n bekroonde premie-handelsmerk te vestig. Die plaas beslaan sowat 115 ha, waarvan 51 ha onder wingerd is. Daar is ook restaurante, venues en ander toerisme-trekpleisers op die landgoed.
Blaauwklippen het jare lank aan buitelanders behoort, maar is sedert 2017 weer in Suid-Afrikaanse besit, met mnr. André Markgraaff, oud-Springbokrugby-afrigter en eiendomsontwikkelaar, as hoofaandeelhouer en voorsitter.
“Dis ongelooflik watter wonderlike werk daar die afgelope vyf jaar op Blaauwklippen gedoen is, veral rondom gehalte en verpakking,” het Retief gesê. Hy glo hulle kan waarskynlik waarde toevoeg met bemarking en verspreiding, danksy hul gevestigde netwerke.
Volgens hom het Van Loveren verskeie entrepeneuriese geleenthede buite Robertson ondersoek, maar uiteindelik op Blaauwklippen besluit omdat dit “die beste pasmaat was vir Van Loveren, maar ons hou ook van die bestuur, die mense en die kultuur”.
“Ons is beïndruk met die gehalte en styl van Blaauwklippen se wyne, maar die uitdaging lê daarin vir ons om dit uit te brei en te laat groei, meer van dieselfde te maak en dit te verkoop.”
Volgens mnr. Ben-Carl Havemann, uitvoerende hoof van Blaauwklippen, sal die vennootskap hulle in staat stel om hul handelsmerk- en bemarkingsplanne te versnel.
“Innovasie is al 340 jaar lank ’n hoeksteen van die Blaauwklippen-nalatenskap. Ons glo dat Van Loveren die ideale vennoot is om saam met ons te werk om ons suksesse verder uit te bou, ons storie op meer maniere te vertel met behulp van meer kundiges wat saamwerk, en dit met meer eindverbruikers regoor die wêreld sal deel.”
Van Loveren se premie-handelsmerke het oor die jare ’n stewige vastrapplek in 68 lande in die buiteland gekry.