Hierdie vlei loop in die Heuningnesrivier in, wat by De Mond-natuurreservaat tussen Struisbaai en Arniston in die see vloei, en 90% daarvan is op Internasionale Vleilanddag (2 Februarie) by die Agulhas Nasionale Park ingesluit. Hierdie insluiting vergroot die park met 2 345 ha.
Die oorsprong van die vlei se naam, is die Zoetendaal, ’n Nederlandse skip wat in 1673 daar naby op die rotse geloop het. Die skipbreukelinge wat land in geloop het, het op die varswatervlei afgekom en die vlei toe na die skip genoem.
’n Plaaslike Khoikhoi-hoofman en beeshandelaar het hulle gehelp om na die nedersetting wat nou Kaapstad is, te gaan.