Vir die sewentiende jaar is ’n innovasie-eerbewys op die Fruit Logistica-ekspo in Berlyn, Duitsland oorhandig. Vanjaar het die Amela-tamatie met die louere weggestap, maar die ander finaliste was ook nie te versmaai nie.
Met sowat twee derdes van die stemme wat op Granada La Palma van Spanje se Amela-tamatie verenig is, was dié interessante kultivar ’n wegholwenner. Die idee vir Amela het aanvanklik in 1996 in Japan ontstaan, maar die kultivar word tans in die suide van Spanje verbou.
Deur besproeiing tot ’n minimum te beperk, raak die vrug se suiker- en suurinhoud meer gekonsentreerd as dié van gewone tamaties (hoewel die oesgrootte op die altaar geplaas word).