’n Wêreld-eerste: kortvoor-vloedbesproeiing, is deur dr. Niel Lecler aangebied, asook sekere aspekte van dreinering om volhoubare besproeiing te verseker. Kortvoor-vloedbesproeiing is reeds op beperkte skaal suksesvol aangewend in KwaZulu-Natal en Zimbabwe, maar kan ook kommersieel gebruik word.
Die voordele van dié metode is onder meer ’n lae energiebehoefte, min verdampingsverliese, groter toedieningseenvormigheid, eenvoudige instandhouding en lae bedryfsskoste van die stelsel.
Daar is egter ’n paar voorvereistes om hierdie voordele te kan ontsluit: Die vore kan eerstens nie te lank wees nie. ’n Matige helling is ’n vereiste, maar dit kan nie te skuins wees nie (1:2 000 tot 1:375). Beddings en vore moet meganies gevorm word.