Goedkeurings vir watergebruik is nie ’n lukrake proses nie. Wanneer aansoek gedoen word om water vir besproeiing aan ’n rivier, spruit of boorgat te onttrek, moet die departement van water en sanitasie spesifieke inligting ontvang oor die soort gewas of gewasse wat geplant gaan word, asook die hoeveelheid hektare wat onder besproeiing sal wees.
In die aansoekproses moet eerstens aan die departement bevestig word uit watter waterhulpbron die onttrekking sal plaasvind. Die naam van die spruit of rivier moet dus verskaf word, of in die geval van ’n boorgat moet die boorgat genommer en daardie nommer verskaf word.
In die meeste gevalle is daar meer as een onttrekkingspunt waarom aansoek gedoen word. In só ’n geval moet elke onttrekkingspunt genommer en die koördinaat van elke onttrekkingspunt moet verskaf word.