Die staat het ’n mandaat om die waterbronne in ons waterskaars land te beskerm. Hiervoor gebruik hy bestaande wettige watergebruik, lisensies of algemene magtigings as goedkeuringsprosesse.
Bestaande wettige watergebruik behels gewoonlik die validasie en verifikasie van gebruik wat ingevolge wetgewing voor die Nasionale Waterwet (Wet 36 van 1998) toegelaat is.
Riglyne om die omvang van bestaande wettige watergebruik te verifieer, is in November 2006 afgekondig en dié landwye proses word in fases deurgevoer. Dit het begin met opvangsgebiede, gebiede waar die grootste waterstres is en gebiede waar kommer oor die omvang van onwettige gebruik heers.