In die landbousektor is daar ’n groot wanopvatting dat dit slegs die onttrekking van water is wat deur die departement van water en sanitasie goedgekeur moet word. Daar is egter verskeie ander bedrywighede op ’n tipiese plaas waarvoor goedkeuring ook nodig is.
Buiten die onttrekking van water uit riviere of boorgate moet ander bedrywighede wat water moontlik kan besoedel, asook bedrywighede binne ’n sekere afstand van waterbronne af, goedgekeur word. Verskeie watergebruike op ’n plaas moet goedgekeur word.
Dit beteken darem nie dat elke watergebruik sy eie algemene magtiging- of watergebruiklisensie hoef te hê nie. Die departement verwerk gewoonlik al die bedrywighede in een aansoek en reik dan een geïntegreerde, algemene magtiging of watergebruiklisensie vir die plaas uit.