Die Wes-Kaapse landbou is ingestel op die produksie en uitvoer van vrugte en wyn, en het in 2020 tot 54% van Suid-Afrika se landbou-uitvoerwaarde toegeneem. Die waarde van landbou-uitvoer uit die Wes-Kaap het in daardie jaar gegroei tot R45,8 miljard.
Die waarde van primêre produksie het ook met 14% tot meer as R16 miljard toegeneem. Ander bedrywe in die Wes-Kaap het in 2020, die eerste jaar van streng inperkingsmaatreëls om die verspreiding van die koronavirus te beperk, ingekrimp, maar die landbou en visserye het gegroei.
Dié bedrywe, wat as noodsaaklike dienste beskou word, was aan minder inperkings onderhewig. Luidens die landbousektorprofiel vir die Wes-Kaap vir 2021 wat pas bekend gestel is, was lemoene in 2020 die Wes-Kaap se voorste landbou-uitvoerproduk met ’n waarde van R8,6 miljard en ’n bydrae van 12% tot landbou-uitvoerwaarde.