
Ten minste 20 000 dosisse van die entstof vir Afrika-perdesiekte sal vanjaar in die rooi sone beskikbaar wees soos die perdebedryf versoek het.
Luidens ’n verklaring deur Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) word alternatiewe opsies tans oorweeg om te verseker dat entstowwe beskikbaar sal wees wanneer inentingseisoen in Augustus begin.
OBP is ook besig om hom voor te berei vir ’n besoek van die Europese Unie se afdeling vir voedsel en veeartsenykunde. Daar word met belanghebbendes in die perdebedryf saamgewerk om te verseker dat die bedryf gereed is vir die Europeërs se oudit sodat Suid-Afrikaanse diere na Europa uitgevoer kan word.