
Met die regering wat voete sleep met die lewendehawe-identifikasie- en naspeurstelsel (LITS) het Agri Oos-Kaap besluit om in te spring om sy eie platform bekend te stel.
Agri Oos-Kaap het sy naspeurstelsel op die been gebring met die doel om diere “van die plaas tot by die vurk” na te kan spoor en as oplossing vir die huidige biosekerheidsrisiko vir die uitbrekings van siektes soos bek-en-klouseer. Die platform is tydens die Bathurst-landbouskou bekend gestel.
“Dit is tot voordeel van die boere en die hoofdoel is om te voorkom dat produksie tydens uitbrekings tot stilstand kom. As bek-en-klouseer nou in die Oos-Kaap uitbreek, sal ons alles moet toemaak, diere in kwarantyn plaas en veilings opskort. Dit sal ’n reuse-impak op boere hê,” sê mnr. Günther Pretorius, bestuurder van hulpbronne en ekonomie by Agri Oos-Kaap
Die stelsel bestaan uit ’n webgebaseerde platform, waar boere hul eie profiel kan skep om hul vee daarop te registreer. As deel van die stelsel word diere geïdentifiseer deur ’n unieke nommer gekoppel aan ’n QR-kode wat aan die diere toegewys is op elektroniese of visuele oorplaatjies. Die oorplaatjies word deur Agri Oos-Kaap beskikbaar gestel en die platform is saamgestel met die samewerking van Codeflux, ’n maatskappy wat onder meer saam met Volkswagen werk.
Pretorius sê die naspeurstelsel is noodsaaklik in die Oos-Kaap aangesien die provinsie die grootste aantal vee en ook die grootste kommunale gebied het. Hoewel die kommunale vee nog ’n kwessie is, sal dit moontlik wees om ’n munisipale gebied of een persoon wat in beheer sal wees van verskeie boere, daarop te registreer. Die stelsel sal tot voordeel wees vir Agri Oos-Kaap wanneer hy munisipaliteite aanvat wat nie rondlopervee in toom hou nie.
Sodra die oorplaatjies op die webplatform gelaai en die diere se inligting vasgevang word, kan die plaatjies aan ’n plaas toegewys of tussen plase, veilingshuise, voerkrale en slaghuise oorgedra word om só te verseker dat die diere se bewegingsgeskiedenis vasgevang word. Die nommers op die oorplaatjies word dan deur Agri Oos-Kaap aan die boer se naam gekoppel. Daardeur kan die oordraggeskiedenis van die dier op die webblad gelaai word saam met die nodige seksie 6- of seksie 8-dokumente.
Die toekomstige planne vir die stelsel is dat verbruikers uiteindelik danksy die stelsel die QR-kodes op ’n pakkie vleis in die winkel kan skandeer, “sodat hulle kan sien die stuk biefstuk het byvoorbeeld by Jansenville op ’n plaas geloop, waarna dit in Gqeberha in ’n slaghuis was voor dit op die winkelrak beland het”, verduidelik Pretorius. Die opsie is egter nog nie beskikbaar nie.
Wat benodig jy
Agri Oos-Kaap stel visuele oorplaatjies (VID of “visual identification”), asook ’n kombinasie van VID en elektroniese oorplaatjies (EID of “electronic identification”) beskikbaar vir skape, bokke en beeste. Boere hoef geen bykomende toerusting aan te skaf om die stelsel te gebruik nie, aangesien die data met die hand ingevoer kan word, maar ’n EID-leser sal die proses vergemaklik.
Boere kan die oorplaatjies gebruik vir hul eie data-insameling in die kudde, en die oorplaatjies se inligting kan op ander platforms gebruik word. Die elektroniese plaatjies kan hergebruik word. Die stelsel is gratis en boere hoef slegs vir die oorplaatjies te betaal.
Die stelsel sal ook na ander provinsies uitgebrei kan word, sê Pretorius, en die doelstelling is dat dit uiteindelik as ’n nasionale platform deur Agri SA gebruik kan word.
“Ek glo boere sal binne die volgende drie jaar nie meer ’n bees kan verkoop sonder ’n naspeurstelsel nie.”
Hy glo dat Suid-Afrikaanse veeboere binnekort gedwing sal word om stappe te doen om naspeurbaarheid te verseker as hulle aan die internasionale mark wil deelneem.
Die stelsel is ook só ontwerp dat, as Suid-Afrika se LITS-stelsel uiteindelik op die been sal kom, dit daarby integreer sal kan word.
Kontak Pretorius by 041 363 1890 of gunther.pretorius@agriec.co.za vir navrae en die koste van die plaatjies.