
Die uitvoermaatskappy Al Mawashi
SA wag nog vir Koeweit om ’n bestelling vir lewende hawe vanuit Suid-Afrika te
plaas. Intussen is die maatskappy se skip, die Al Messilah, onderweg na
Wes-Australië om skape op te laai. Dit sal die hawestad Fremantle môre (19
Februarie) bereik.
“Die Koeweit-voerkraal sal volle kapasiteit bereik met die ontvangs van dié verskeping,” sê mnr. JP Roodt, Al Mawashi SA se woordvoerder. Die Koeweit-voerkraal sal volgens hom geruime tyd nie verder aangevul hoef te word nie.
Indien die voerkraal wel in die nabye toekoms aangevul moet word, sal Al Mawashi se Australiaanse afiliaal waarskynlik voorkeur ontvang totdat die Suid-Afrikaanse regering en rooivleisbedryf al die struikelblokke uit die weg ruim vir die Suid-Afrikaanse lewendehawe-uitvoerbedryf.
“Australië is die voorkeurverskaffer van lewende hawe aan Koeweit. Die Australiaanse rooivleisbedryf is reeds ingerig om die aanvraag uit die Midde-Ooste te hanteer. Suid-Afrika is ’n opkomende mark en moet homself gereed maak om ’n vennoot vir Koeweit te wees.
Sistemiese kwessies
“Dit is kommerwekkend is dat daar verskeie sistematiese kwessies is wat sou gou as moontlik uitgestryk moet word. Daar is ook probleme wat Transnet in die gesig staar en dit was duidelik merkbaar tydens die 2022-staatsrede.
“Geruime tyd is betrekkinge met Koeweit as die grootste internasionale aankoper van lewende hawe versuur. Die Suid-Afrikaanse regering sloer voortdurend met die finalisering van die riglyne vir die verskeping van lewende hawe. Bykans ’n jaar het reeds verstrek sedert belangegroepe genader is vir kommentaar en insette vir voorgestelde riglyne.”
Roodt sê Al Mawashi het verliese van ongeveer R49 miljoen gely weens die regsgeding met die nasionale Dierebeskermingsvereniging. “Ten spyte hiervan het die maatskappy waardevolle insette gelewer rondom die opvoeding van verbruikers in Suid-Afrika, asook die bemarking en bestuur van die Suid-Afrikaanse rooivleisbedryf se beeld in die Midde-Ooste. Plaaslike en internasionale pogings deur dié bedryf was gebrekkig.
Hy sê vergeleke met die waardetoevoeging van Meat and Livestock Australia namens Australiaanse rooivleisprodusente wat produkte en lewende hawe uitvoer, is daar egter geen gelykstaande poging om die Suid-Afrikaanse rooivleis se belange in die Midde-Ooste te bevorder nie. “Al Mawashi SA het ongeag daarvan reeds R4,5 mijoen op bemarking, navorsing en ontwikkelling, asook verbruikersvoorligting bestee namens plaaslike rooivleisprodusente wat betrokke is by die uitvoer van lewende hawe, en verskaffers van bevrore en verkoelde lams- en skaapvleis wat uitgevoer word.
“Dit is egter kommerwekkend dat geen waarde geskep word vir die lams- en skaapvleisbedryf met die ontleding van die data van die Vereniging vir Vleisin- en -uitvoerders nie. Wat duidelik uitstaan, is die negatiewe handelsbalans vanaf 2016 tot 2019. In daardie tydperk is 6 473 ton lams- en skaapvleis ingevoer in vergeleke met die skamele uitvoer van slegs 390 ton. As hierdie situasie nie spoedig verbeter nie, word ’n gulde geleentheid verspeel om ’n groter aandeel te bou in die uitvoer van lewende hawe, sowel as bevrore en verkoelde lams- en skaapvleis.
“Dit is ook ons mening dat die lams- en skaapvleisbedryf afgeskeep word omdat die beesvleisbedryf meer voorkeur geniet in die bedryf.”
Tog voeg hy by dat Al Mawashi SA vir Suid-Afrika ’n nismark geskep het vir bevrore en verkoelde lams- en skaapvleis.
“Ons maatskappy is baie trots op die groei in uitvoer van bevrore en verkoelde lams- en skaapvleis na die Midde-Ooste. Verlede jaar het uitvoer gestyg met 107% vergeleke met 2020. Dit is noemenswaardig dat ons gedurende die eerste twee maande van die jaar reeds 2 000 ton se verkope van bevrore en verkoelde lams- en skaapvleis vir die tweede helfte van 2022 voorspel. Hierdie syfer dui aan dat Al Mawashi SA reeds ’n 70%-styging in uitvoer bewerkstellig het vergeleke met die 2021-boekjaar.”
*Landbou.com het die departement van landbou en die Rooivleisprodusente-organisasie genader vir kommentaar, en sal die berig aanpas sodra die kommentaar ontvang is.