
Daar is tans landwyd 101 gevalle van bek-en-klouseer, dui die departement aan in sy nuutste verslag oor die voorkoms van dié siekte.
Luidens die verslag is die sewe nuwe gevalle in KwaZulu-Natal in kommunale weigrond in die siektebeheergebied – een in die distriksmunisipaliteit Jozini, vyf in die distrikmunisipaliteit Ulundi en een in die munisipaliteit Nongoma. Die inentingsprogram in die gedeeltes van die siektebeheergebied waar die virus voorkom, duur voort. Tot dusver is sowat 233 000 beeste ingeënt.
Geen nuwe gevalle van die siekte is in Limpopo bevestig nie. Ten einde die verspreiding daarvan hok te slaan, word beeste in Thulamela, asook die voorheen bek-en-klouseervrye sone en -beskermde sone ingeënt. Tot dusver is sowat 38 200 beeste ingeënt. Die inentingsveldtog duur voort.
Bek-en-klouseer is by vier nuwe plekke in die Vrystaat bevestig. Al die nuwe gevalle is in die munisipaliteit Moqhaka. Die betrokke plase is onder kwarantyn geplaas en daar is met inentings begin.
’n Tweede ronde inentings word in Noordwes onderneem. Sedert daar in Junie vanjaar met inenting begin is, is sowat 31 500 beeste teen die siekte ingeënt.