
SAB het ’n ooreenkoms gesluit met Bio2Watt, ’n maatskappy wat hernubare energie op nywerheidskaal verskaf. Dit word deur swart vroue besit. Beesmis gaan hoofsaaklik gebruik word vir kragopwekking by die Cape Dairy Biogas-aanleg by Malmesbury in die Wes-Kaap. Die aanleg gaan dele van die brouery van krag voorsien.
Volgens mnr. Kyle Day, SAB se direkteur van verkryging in Afrika, is dit vir SAB belangrik om saam te werk met wêreldwye pogings om die vrystelling van skadelike koolstofvrystellings, wat veral bydra tot klimaatsverandering, te beperk.
Hoewel die aanleg nog gebou word, gaan dit koeimis en afval van een van die grootste melkplase in die Suid-Afrika, Vyvlei by Malmesbury, gebruik. Die plaas het sowat 7 000 melkkoeie. Koeimis gaan gemeng word met ander vloeibare afval wat ook uit die area verkry word om hernubare energie op te wek.
Biogas word vrygestel wanneer organiese materiaal soos mis, munisipale vullis en plantmateriaal afbreek. Dit word in die aanleg omgeskakel in hitte en energie om krag op te wek.
Die ooreenkoms sal SAB in staat stel 23% van sy bedrywighede met herwinbare krag bedryf.
Die plan is in ooreenstemming met die beherende maatspappy, Anheuser-Busch InBev, se globale doelwitte om 100% gebruik te maak van hernubare energie teen 2025 en sodoende koolstofvrystellings met 25% te verminder.
“In ooreenstemming daarmee is dit ook ons doelwit om teen 2025 volkome gebruik te maak van herwinbare energiebronne. Verder is dit vir ons belangrik om minder druk op die nasionale kragnetwerk te plaas.
“Met die ooreenkoms doen ons nie net die bogenoemde nie, maar ons lewer ook ’n bydrae tot ’n groener, skoner, volhoubare toekoms,” sê Day.
Sonkrag word reeds ingespan by al die SAB se brouerye en daar is ook planne om dit verder uit te brei.