
Dr.
Grietjie de Klerk, adjunk-direkteur vir epidemiologie van dieregesondheid, het
vanoggend in Pretoria op ’n simposium van die dieregesondheidsmaatskappy
Afrivet oor dieresiektes gesê positiewe bek-en-klouseergevalle is pas by beeste
in die voerkraal gevind en die ondersoek duur nog voort.
Volgens de Klerk word die normale prosedure gevolg vir wanneer bek-en-klouseer uitbreek, wat die neem en ontleding van monsters insluit. Daarna kan aangetaste diere geslag word. In só ’n geval word die ondersoek na naburige plase uitgebrei en kwarantyn word toegepas.
Toepassing
Die beheer van die siekte rus op vier pilare, naamlik inspeksie, beheer van beweging, fisieke afperking van geaffekteerde gebiede en inenting. “Ons het ’n baie deeglike stelsel gehad, maar die afgelope paar jaar was daar probleme met die toepassing daarvan op grondvlak, veral in Limpopo.”
Daar was die afgelope jare ’n aantal uitbrekings. Die eerste was laat in 2018 in Limpopo. Dit het na KwaZulu-Natal, Noordwes, die Vrystaat en Gauteng versprei, vermoedelik omdat diere onwettig vervoer is.
De Klerk het gesê sommige boere werk mooi saam om die siekte te bekamp, “maar ’n paar boere doen dit nie en stel die hele land in gevaar”. Hulle werk ook goed met afslaers saam en die maatreëls word verder verbeter.
Verspreiding
Benewens die onwettige vervoer van diere kan bek-en-klouseer ook met die vervoer van dierevoeding versprei word, asook deur mense wat tussen plase beweeg. “Mense is soms huiwerig om dit te meld as hulle vermoed die siekte kom by hulle voor, omdat hulle besef hulle gaan verliese ly. Dan vervoer hulle soms die besmette diere na ander distrikte.”
De Klerk het gesê een van die probleme is dat daar nie entstof is nie. “Ons moet begin om ons eie entstof te vervaardig, maar registrasie is nog nie gekry nie, onder meer weens ’n gebrek aan hulpbronne op regeringsvlak. Intussen moet ons die waarnemings verhoog en boere moet selfbeheer toepas.”
Mnr. Donald King, verbonde aan ’n laboratoriumnetwerk van die Verenigde Nasies se Voedsel-en-landbouorganisasie en die internasionale organisasie vir dieregesondheid (OIE), het aanlyn vanaf Brittanje gesê nuwe, onvoorspelbare patrone in die uitbreek van bek-en-klouseer kom in Afrika voor en die siekte versprei vinnig, onder meer na Suider-Afrikaanse lande.