
“Ons is van nêrens af te ver nie – kyk hoe vinnig het covid-19 versprei,” het dr. Gideon Bruckner op die jaarvergadering van die Wes-Kaapse Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) op Caledon gesê. Bruckner is lid van die ministeriële taakspan vir dieresiektebiosekerheid, afgetrede nasionale direkteur van veeartsenydienste en gewese adjunk-direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie.
Bek-en-klouseer het binne ’n kort rukkie vanaf Limpopo na Noordwes versprei terwyl die siekte nog in sy inkubasieperiode was. Dit is die eerste keer dat die siekte in vyf provinsies gelyktydig voorkom.
Vee word dikwels onbeheerd onwettig verskuif. Die verskuiwing van diere van en na veilings in die inkubasieperiode kan ’n “bom” van verspreiding wees. Ook mense kan die virus versprei tussen plase en tydens periodes van baie reis – soos Paasnaweek, het Bruckner gesê. Ook die onwettige slag en vervoer van vleis versprei dit vinnig.
Selfs boere weet te min van die siekte. “Maak seker jy weet wat is die simptome van bek-en-klouseer. Koop diere van betroubare verkopers, laat diere ondersoek as twyfel bestaan, hou nuwe diere eers in kwarantyn op die plaas, en die belangrikste is: Hou ’n gebeurlikheidsplan gereed op jou plaas ingeval die siekte gediagnoseer word.
“Doen ’n risiko-analise, beheer die beweging van diere, tref binne die eerste 48 uur maatreëls daarteen en weet presies wie in beheer is van so ’n situasie in die omgewing.”
Dr. Graham Leask van die Wes-Kaapse departement van landbou by Elsenburg het gesê selfs veeartse moet bedag wees om nie die virus te versprei wanneer hulle tussen plase beweeg nie. “Elke plaas is uniek, en daarom moet elke plaas sy eie siektebestuurstelsel hê. Kry dadelik hulp en kundigheid as bek-en-klouseer voorkom. Kommunikeer dadelik boontoe met kundiges en sy- en afwaarts met werkers en medeboere.” Dooie diere se karkasse moet vernietig word en hou diere van verskillende eenhede op die plaas uitmekaar.
Mnre. Nico Uys en Jaco van den Berg is herkies tot voorsitter en ondervoorsitter van die Wes-Kaapse RPO.