Mnr. Angus McIntosh, ’n herlewingsboer op die Spier-wynlandgoed buite Stellenbosch wat sy produkte onder die handelsnaam Farmer Angus bemark, het nou ’n nuwe produk op die mark.
Farmer Angus se biefburgers van grasvreters se vleis sal nou landwyd by kleinhandelaars van die Checkers-groep beskikbaar wees. Dit word as ’n groot deurbraak vir herlewingslandbou, werkskepping en die stryd teen klimaatsverandering beskou.
Hy sê sedert die kontrak met Checkers beklink is, kon hulle die hoeveelheid beeste op die plaas vermeerder en werk aan vier nuwe werkers verskaf. Hy gee ook die versekering dat die biefburgers nie duurder kos as ander burgers van voerkraalbeeste wat graan gevoer word nie.