Die donkie is ’n wonderlike ding, ook vir die mense van die Blouberg-munisipaliteit in Limpopo digby die Suid-Afrikaanse grens met Botswana. Dié hoefdiere word op groot skaal gebruik – vir van ploeë sleep en donkiekar trek om mense dorp toe te vervoer of hout en water te karwy.
Dié gebied rondom Alldays was in die 1890’s bekend aan die Duitser Christoph Sonntag. Hy het vyf jaar vanuit die Blauberg-sendingstasie namens die Berlynse sendingstasie onder die Bahananwa-mense gewerk. Deesdae volg sy kleindogter, dr. Quixi Sonntag, op haar eie manier in sy voetspore.
Dié veearts is namens die Universiteit van Pretoria (UP) aan die stuur van ’n bewusmakingsprojek oor donkies se versorging. Quixi se hart lê in gemeenskapswerk. Sy het in die 1990’s van die eerste gemeenskapsveeartsenyklinieke in Pretoria help begin.