Daarom moet stoettelers sorg dat hulle slegs vee van uitmuntende gesondheid aan hul medeboere verkoop. Só het dr. William van Zyl van die Wellington-dierehospitaal op ’n inligtingsdag van die Wes-Kaapse Boerbokklub naby Wellington oor biosekerheidskwessies gesê. “Boere gee te min aandag aan biosekerheid.”
Risiko’s vererger veral wanneer intensief met Boerbokke, skape en ander diere geboer word. Van Zyl meen drie beginsels moet streng toegepas word. Daar moet gekeer word dat siektes op plase inkom, dat dit reg oor ’n plaas versprei, en, indien dit gebeur, dat dit na ander boere “uitgevoer” word.
Diere se immuunstelsels kan help om virusse en parasiete te bekamp. Dit kan egter net gebeur as diere se eie biosekerheid – hul immuunstelsels – in balans is. “Wanneer jy diere by iemand koop, kyk hoe lyk sy plaas, sy bestuurstelsels en die diere self. Praat met hom en weet wat in sy boerdery aangaan.”