
Volgehoue ondersteuning van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV) het daartoe gelei dat wol van kommunale boere nou 17% tot 18% van die nasionale skeersel uitmaak.
Mnr. Leon de Beer, hoofbestuurder van die NWKV, het op die organisasie se jaarkongres in Gqeberha gesê hulle kon reeds 1 400 kommunale wolskaapgroepe hoofsaaklik in die Oos-Kaap organiseer. Die groepe verteenwoordig 40 000 individuele kommunale boere en 240 000 gesinslede.
“Hulle boer met 4 miljoen skape en produseer 8 miljoen kg wol. Dis 17% tot 18% van die nasionale skeersel teenoor die 13% wat hul bydrae voorheen was.”
De Beer sê hulle maak vordering. In 1997-’98 is 200 000 kg wol van kommunale boere deur die formele veilingstelsel vir R1,5 miljoen verkoop. “Dit het gegroei tot 5,4 miljoen kg wol met ’n waarde van R267 miljoen. Ongelukkig het China se verbod op Suid-Afrikaanse wol as gevolg van bek-en-klouseer pryse laat daal.”
Knelpunte
Ten spyte van die vordering is daar heelwat knelpunte. Die groot getal boere word deur net ses produksie-adviseurs bedien. Van hulle is vier in diens van die NWKV, terwyl Ethical Trade Norway die salarisse van die ander twee betaal. Die produksie-adviseurs organiseer die boere in wolboerverenigings sodat hulle hul wol gesamentlik kan skeer en bemark, en sodoende toegang kry tot die formele mark.
De Beer het gesê om hul toegang tot die formele mark en beter pryse te verbeter, het die boere ’n groot behoefte aan beter teelmateriaal en skeerinfrastruktuur.
Verbeteringe
Die NWKV het die afgelope boekjaar vyf nuwe wolskure in die kommunale gebiede opgerig met die hulp van Sibanye Stillwater en die First Rand-stigting. Hy het die regering versoek om voort te gaan met die program vir genetiese verbetering omdat beter diere so ’n groot verskil maak aan die gehalte van die skeersel en die pryse wat boere behaal.
Die wolverbeteringsprogram se maatskaplike impak word elke vyf jaar gemeet en ook daar is die vordering besonder goed, sê De Beer. “Ons beoordeel die impak van die program elke vyf jaar. Toe ons begin het, het 47% van deelnemende boere se huishoudelike inkomste van wol en sybokhaar gekom. In 2020 was dit 75%.
“Daar is ook meer selfone en yskaste, en die proporsie van die kinders wat honger gaan slaap, het van 41% in 2004 tot 6% in 2020 gedaal. Huishoudings met spaarrekeninge het van 49% tot 94% toegeneem en die gesinne wat skoolgeld moet leen, het van 77% tot 30% gedaal.”