Beeste wei in lowergroen veld op dr. Wim en me. Corrie van Wyk se plaas Woudzicht Deel 3 naby Roadside in die distrik Vrede in die Vrystaat.
Dit is een van die natste seisoene wat hulle nóg beleef het. Die Van Wyks boer met Bonsmara-beeste en die lande word uitgehuur vir mielie- en sojaboonverbouing.
Hulle plant ook tef en oulandsgras aan wat nou vir wintervoer gebaal word. Verder het hulle olyf-, kersie-, pekanneut-, perske-, appelkoos-, appel-, vye- en kweperbome op die plaas en plant tamaties, kool, blomkool, spinasie, beet, uie en kruie vir eie gebruik in hul groentetuin.