Die Ankole is deesdae gewild danksy die ras se majestueuse horings, maar horinglengte is nie al waarvoor mnr. Dail van Rensburg van die plaas Kalkpan by Delareyville selekteer nie. Vrugbaarheid kry voorkeur in seleksie. ’n Koei wat nie dragtig raak nie, kan geen genade verwag nie, behalwe in ’n ernstige droogte.
Andersins word nie-dragtige vroulike diere uit die kudde verwyder, sê hy. Nie eens stoetkalwers word ontsien wanneer hy sy streng seleksie toepas nie, want vrugbaarheid is uiters belangrik vir vooruitgang en wins.
Daarmee saam moet ’n speenkalf vinnig groei en swaar speen, met ’n gesonde balans tussen hierdie twee kriteria. Van Rensburg boer sedert 1983 op Kalkpan. Hy besit ook ander plase by Delareyville en Stella. Sy Rensbou-stoetery bestaan uit Ankole-, Santa Gertrudis- en Romagnola-beeste.