Hy het vandag ’n man geword danksy ntate Eddie se inisiatief, sê mnr. Koos Thibane, voorsitter van die Donkerhoek-projek in die distrik Smithfield. Hy en sy ses medeboere kan nie uitgepraat raak oor die verwesenliking van ’n eie produksie-inkomste nie.
Die agtste lid, me. Palesa Phansi (tesourier) is die derde geslag op die plaas. “Ons kinders en húl kinders gaan by die projek baat vind as hulle op die grond boer. Dit is húlle grond.” Ná onderhandelings van ses jaar het die groep die titelakte vir die plaas Donkerhoek by Smithfield ontvang.
Dié plaas is deur mnr. Eddie Prinsloo van die naasliggende Heuningkrans-Merino-stoetery ingevolge ’n staatskema aan sy eie werkers verkoop. Thibane en sy vriende was verheug oor die verkoop van vier Merino-ramme vir onderskeidelik R15 000, R10 000, R8 500 en R12 500 op Prinsloo se 43ste produksieveiling op 22 Februarie, wat hul status as boere bevestig het.