Midde-in suurveld en in ’n omgewing wat eerder om gewasverbouing bekend is, is die Scheepers-familie se Boran-stoetery besig om grense te verskuif. Anne AVZ 100019, die nageslag van ’n Afrikabul, verteenwoordig die Borane in die Stamboekkompetisie.
Sowat 80% van Johan Scheepers se boerderyinkomste spruit uit gewasverbouing, en veral suikerbone aard hier goed. Sy stewige veevertakking word gebruik om die oesreste in die winter te benut.
Die boerdery se sowat 2 000 beeste bestaan uit ’n Boran-stoetery en Sussex- beeste wat nie meer as ’n stoetery aangeteken word nie. Die Borane word raseg geteel en die bulle word by ’n Sussex-moederlyn gebruik vir speenkalfproduksie.