
Namibiese veeboere het tans geen beskikbare entstowwe teen siektes wat deur muskiete en muggies oorgedra word nie, sê die Namibiese Landbou-unie (NLU).
Die meeste van die entstowwe wat lewende hawe in Namibië teen veesiektes kan beskerm, kom van Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) in Suid-Afrika.
“Die kwessies rondom entstofbeskikbaarheid bly ’n groot rede tot kommer vir Namibiese veeartse. Dit plaas die lewendehawesektor onder onnodige druk omdat veeartse nie die risiko van vektoroorgedraagde virussiektes voorkomend kan bestuur nie,” sê dr. Andréa Grünewald van die Namibiese Veeartsenyvereniging.
“Alarm word al geruime tyd gemaak oor die kritieke tekort aan sekere OBP-entstowwe in Suid-Afrika. Dié tekorte spoel oor na Namibië en los produsente met hul hande in die hare,” sê die NLU in ’n verklaring.
“Dit dwing produsente om alternatiewe opsies te ondersoek om lewende hawe teen siektes soos drie-dae-stywesiekte, bloutong en slenkdalkoors te beskerm.”
Die Namibiese Lewendehaweprodusente-organisasie het onder meer die raad van private veeartse begin inwin.Omdat slegs die simptome van virussiektes in sommige gevalle behandel kan word, is dit noodsaaklik dat eerder op voorkoming gekonsentreer moet word, sê die NLU.
Geen ernstige uitbrekings, maar ...
Ondanks die uitbreking van verskeie vektoroorgedraagde siektes onder vee in Suid-Afrika sê Grünewald daar is nog nie groot toenames in die voorkoms siektes gesien nie.
“Veeartse rapporteer ’n matige toename in drie-dae-stywesiekte by beeste, met sommige boere wat al verliese ervaar het.”
Sy sê die laer voorkoms is weens laat en sporadiese reën. Dit is egter moontlik dat groot uitbrekings later in die somer kan voorkom met meer reën.