Die Kojo Drakensberger-stoetery volg nou sy prestasie as die kudde met die beste tussenkalfperiode (TKP) vir kuddes met meer as 200 koeie op met die ras se beste Elite-koei.
Dié prestasies is behaal danksy ’n lae TKP as gevolg van hoë vrugbaarheid. Mnr. Koos van Niekerk is deel van ’n familieboerdery, Kojo-boerdery (Edms.) Bpk., by Amersfoort in Mpumalanga, saam met sy pa, Jan, en broer, Johan.
Hul pa is oorhoofs in beheer van die boerdery. Koos bestuur die vee-afdeling en Johan die saaiery. Hulle boer met Drakensbergers en Merino’s, wat stoet- en kommersiële diere insluit, en saai ook mielies, sojabone, tef en hawer.