
Wildboerdery ontwikkel in ’n bedryf waarin dit al hoe meer noodsaaklik raak om die beskikbare genetiese hulpbronne behoorlik te bestuur.
Dr. Paul Lubout, direkteur en genetiese raadgewer van die registrasie-instelling Wildlife Stud Services (WS²), sê die benutting van DNS-tegnologie het reeds die stabiliteit in die bedryf bewerkstellig wat voorheen ontbreek het.
Lubout het op ’n wildinligtingsdag van die Noord-Vrystaatse Bedryfskamer van die Wildbedryf SA (Wildlife Ranching South Africa – WRSA) by Kroonstad gesê die wildbedryf in die Vrystaat groei die vinnigste van al die streke van WRSA.
Bestuur van verskeidenheid
Volgens hom het dié bedryf ’n groot verantwoordelikheid ten opsigte van die bestuur van verskeidenheid in wildbevolkings op plase en vir die totale bedryf. En dit noodsaak die gebruik van databasisse, tegnologie en die genetiese hulpmiddele wat reeds in die wêreld beskikbaar is.
“Die versiendheid van leiers in die wildbedryf en wildboere om data aan te teken deur mikroskyfie-inligting, DNS-profiele, genetiese gegewens, kleur, horinglengte, tussenkalfperiodes, foto’s en ander eienskappe, maak dit nou moontlik om hierdie inligting as ’n vertrekpunt te gebruik. Dié eienskappe kan gebruik word om genetiese diversiteit te bestuur en, met die hulp van genetiese verbetering, volhoubaarheid vir die bedryf en vir boerderye te bewerkstellig,” sê Lubout.
Dr. Ben Greyling van die Landbounavorsingsraad, sê teling in die wildbedryf volg toenemend die telingsgeskiedenis van die beesbedryf.
Volgens Greyling begin wildboere om die telingseienskappe van hulle diere en hulle nageslag aan te teken. Dit behels onder meer vrugbaarheid, skrotumomvang, lengte van horings.
Meet om te weet
“Telers begin om eienskappe te meet, want as jy meet, weet jy,” sê hy. “Met die beeste het dit so begin toe telers besef het dat hulle nie prestasie kan bepaal deur net na die diere te kyk nie. Deur die diere en hulle nageslag in verskillende omgewings te meet, kan die telingsprestasie vasgestel word.”
Volgens Greyling gee die wildbedryf ’n stap vorentoe deur saam met die telingsmeting diere se stamboom-inligting aan te teken.
Dié ontwikkeling in die wildbedryf word onder meer aangespoor oor die hoë waarde van sommige wildspesies, asook om diere se telingsprestasie aan potensiële kopers te waarborg.
Fotobyskrif: Aanwesiges op die wildinligtingsdag van die Noord-Vrystaatse Bedryfskamer van WRSA by Kroonstad, van links: dr. Munro Marx van Unistel, me. Ramondé Odendaal van Senwes, dr. Paul Lubout van Wildlife Stud Services en mnr. Jacobus du Toit van WRSA. Foto: Johan Norval