Om die vraag te beantwoord, is dit belangrik om die lewensiklus van die parasiet te verstaan. By herkouers kom twee soorte lewerslakwurms voor, naamlik die gewone lewerslak (Fasciola hepatica) en die reuse-lewerslakwurm (F. gigantica).
Die volwasse lewerslakwurms, wat tweeslagtig is, leef in die galbuise van die finale gasheer waar hulle eiers lê. Saam met die gal vloei die eiers deur die galbuis tot in die derm en word in die mis van die gasheer uitgeskei.
In eiers wat in vars water val, ontwikkel daar ’n vrylewende larf (mirasidium) wat ná ongeveer 9 tot 21 dae uitbroei as die temperatuur warm genoeg is.