
Wol- en bokhaarpryse het vandeesweek gestyg. Dit is ondersteun deur die verswakking in die rand.Volgens die Cape Wools-markverslag het die pryse vir RWS- én nie-RWS-wol toegeneem, onderskeidelik met 1,9% tot R200,86/kg en 3,5% tot R172/kg.
Altesaam 8 078 bale is aangebied, waarvan 96,69% verkoop is.Luidens die verslag het die aanbieding hoofsaaklik bestaan uit fyn mikron, lang wol, met RWS-wol wat 20,7% van die totale aanbod uitgemaak het.
Die styging is aangehelp deur ’n verswakking van 2,9% in die wisselkoers van die rand. Australiese markte het effens teruggesak met 1,06% sedert hul laaste veiling wat 24 Februarie aangebied is.
Die topprys van R265/kg op die jongste veiling is betaal vir ’n baal van 15,2 mikron en ’n skoonopbrengs van 67,4% van mnr. J.M.P. Webber van Makhanda. BKB was die makelaar.
Die volgende veiling sal 9 Maart aangebied word.Bokpryse steeds rekordhoogPryse vir bokhaar het op die tweede veiling van die somerseiseon weer gestyg, met die gemiddelde markprys wat met 4% tot R432,73/kg toegeneem het. Pryse het reg oor al die kategorieë toegeneem.
Die grootste styging van 10% is waargeneem in die sterk grootbokkategorie en 5% vir kleinbokkiehaar.
Volgens Bokhaar Suid-Afrika se verslag het die veilingsaanbod bestaan uit bokhaar van goeie gehalte, en was daar goeie mededinging tussen kopers. Altesame 76% van die haar wat aangebied is, was RMS-gesertifiseer.
Die topprys van R831/kg op die veiling is betaal vir ’n lot superstyl BSFK van 27,2 mikron van mnr. D.H. Schoeman, wat ook ’n BSFFK-lot van 23 mikron verkoop het vir R803/kg. Die makelaar was OVK.
Luidens die OVK-markverslag kan groter weerstand in die komende veiling voorkom teen sekere tipes bokhaar weens ’n groter volume wat aangebied word. Die derde veiling sal op 22 Maart aangebied word.