Wetenskaplik is dit bewys dat aardverwarming en die wisselvalligheid van die klimaat veeboerdery in Suider-Afrika drasties gaan verander, waarsku die weidingkundige dr. Louis du Pisani vroeër vanjaar in Landbouweekblad.
Dit sluit in ’n toename van 1 °C in die gemiddelde temperatuur per jaar oor Suider-Afrika (teenoor 0,65 °C wêreldwyd), wisselvalliger en uiterstes in reënval met die nat tye wat natter word en droë tye droër, en ’n ongekende toename in die CO2-konsentrasie in die atmosfeer.
Die gevolge hiervan vir vee is verhoogde hittespanning, meer afloop en verlies van reënwater, ’n versnelling in gronderosie en langer, intenser droogtes. Alles verskynsels wat boere eerstehands die afgelope paar jaar beleef het.