Die Bonsmara-kudde van die Kruger-stoetery lewer ’n aktiewe bydrae tot die vleisbeesbedryf te danke aan die strewe na vooruitgang deur sy eienaar, mnr. Frikkie Kruger. Dit is dus geen wonder nie dat dié stoetery gereeld vir eerbewyse in aanmerking kom.
Die plaas Waterpaslaagte het vanjaar sy derde Elite-koei opgelewer. Die koei WAT 09-0106 verteenwoordig die ras se vroulike dier wat aan die Logix-vleisbees-databasis se kriteria voldoen op grond van produksie-, reproduksie- en genetiese merietestandaarde.
Hy het ook in 2009 (WAT 99-0104) en 2011 (WAT 00-0117) die Elite-koei-eerbewys ontvang. Die stoetery is in die distrik Boshof geleë, waar Kruger en sy broer, Louw, en ’n seun van elk, onderskeidelik Philip en Louwtjie, op sowat 12 500 ha boer. Die kudde bestaan uit 1 100 stoet- en 400 kommersiële koeie.