
Die gebruik van nuut ontwikkelde seleksie-indekse vir SA Holstein sal voortaan tot winsgewender beeste van dié ras lei. Mnr. Jaco Herbst, voorsitter van SA Holstein, sê die gebruik van teelwaardes sal lei tot beeste wat beter presteer met melkproduksie, vrugbaarheid, doeltreffende voeromsetting en koeie wat minder vatbaar is vir uier-probleme en meer laktasies sal voltooi.
Dit volg op die aanstelling van die SA Stamboek- en Diereverbeteringsvereniging om die Holsteins se genetiese geheelras-ontleding te doen. Dr. Japie van der Westhuizen, bestuurder van produksie-aantekening van SA Stamboek, sê die organisasies het gesamentlik die nuutste genetiese evaluasies vir die Suid-Afrikaanse Holstein goedgekeur.
Dit is die uitvloeisel van intensiewe ontwikkeling deur SA Stamboek met die toepassing van die nuutste tegnologie om die genetiese meriete van melkbeeste te beraam. Dit weerspieël ook die Suid-Afrikaanse betalingstelsel vir melk sowel as die produksie-, gesondheid- en reproduksiekoste, asook die verwagte gevolge van seleksie op teelwaardes.
“SA Stamboek het internasionale akkreditasie en daarom het SA Holstein het die genetiese ontleding van die ras aan hom toevertrou. Dié samewerking verseker maksimum deelname in die land se melkaantekeningstelsel waardeur data vir toekomstige evaluasies beskikbaar gestel word,” sê Herbst.
Die SA Stamboek-evaluasie was aan streng Interbull-standaarde vir betroubaarheid en stabiliteit van voorspellings onderhewig en voldoen aan alle moontlike vereistes. Dit laat SA Stamboek toe om deel te neem aan die komende Interbull-toetslopie en alle daaropvolgende gereelde internasionale genetiese evaluasies vir die land se Holsteins.
Hierdie stappe laat Holstein-telers toe om die nuwe diens van SA Stamboek te benut wat genomiese inligting gebruik om die betroubaarheid van genetiese voorspellings van jong verse en bulle te verbeter.