Die balans tussen die omgewing en die kudde se potensiaal speel ’n belangrike rol in suksesvolle skaapboerdery, want vleis- en wolboerdery is ’n verweefde ketting.
Die kleinveegenetikakenner dr. Buks Olivier het op ’n onlangse boeredag van Oranjeriviervoere buite Prieska benadruk boere moet weet waartoe die omgewing (drakrag) op hul plaas in staat is en hoe die diere by die omgewing aanpas.
“As gevolg van die wisseling in insetkoste en produkpryse is dit nie volhoubaar om die omgewing op lang termyn by die dier te probeer aanpas nie. “Uiteindelik is dit die toepassing van basiese beginsels wat ’n suksesvolle boerdery met vrugbare kuddes voortbring. Die suksesvolle veeboer stel doelwitte en hou daarby. Waak daarteen om agter die nuutste neigings aan te hardloop.”