
Dr. Japie van der Westhuizen, hoofbestuurder van SA Stamboek, sê dit is nie ’n verrassing dat telers in Indië die waarde van die Suid-Afrikaanse Boerbok as teeldier raakgesien het nie. “Suid-Afrika se stoettelers is bekend daarvoor dat hulle diere van uitstekende gehalte kan teel. Die rasse eie aan veral Suider-Afrika is in ander wêrelddele gesog en die kombinasie van toptelers, met die plaaslike genetiese bronne tot hul beskikking, sorg vir die seleksie van die produktieste teeldiere.”
Volgens hom bepaal die Diereverbeteringswet (Wet 62 van 1998) soos vir ander landrasse dat dié diere aan streng voorwaardes voldoen voordat hulle uitgevoer mag word. Dit verseker gehalte omdat dit verseker dat diere wat aan die standaarde van die betrokke telersgenootskap voldoen, uitgevoer word.
“Suid-Afrikaans geteelde Boerbokke vorm die kern van die teling van Boerbokke in Indië, ook in die opgradering van hul plaaslike bokke,” sê Van der Westhuizen. “Stamboek se Logix-stelsel voldoen aan wêreldstandaarde en dra die internasionale diere-aantekeningkomitee (ICAR) se gehalteseël. Verder bied Logix volle internettoegang en is data elektronies uitruilbaar. Deelname word dus nie beperk tot plaaslike telers nie.”
Telers van Suider-Afrika, Suid-Amerika en Amerika gebruik reeds dié Stamboekstelsel vir die aantekening en teling van hul diere.
Hy sê die Indiese praktyke om plaasvee te teel, verskil uiteraard van Suid-Afrika, wat ’n ander aanslag geverg het. “Die Boerbokke van verskillende eienaars word oor die algemeen saamgevoeg en in gesamentlike kuddes bestuur. Dit is soortgelyk aan die praktyke wat gevolg word met melkkoeie en -buffels, waarvolgens die koeie van ’n nedersetting as ’n kudde geëvalueer word, al het hulle verskillende eienaars. Die beweging van diere tussen kuddes (en natuurlik lokaliteite) word ook so doeltreffend gemonitor en vir naspeurbaarheid.”
Die eerste stappe is om al die eienaars, kuddes en die diere op Logix vas te lê. Aangesien die oorspronklike teeldiere se oorsprong in Suid-Afrika is waar hulle reeds aangeteken is, sal die stamboominligting outomaties gekoppel word en sal die Indiese diere spoedig deel kan vorm van die genetiese evaluasie vir die ras. Enige teler kan só voordeel trek uit www.SASmallstock.com, waar die waardes deur Stamboek beskikbaar gestel word.