Dikwels word geredeneer dat die vermoë van die Suid-Afrikaanse melkbedryf om te groei of selfs net te oorleef, afhang van die mate waartoe die plaaslike bedryf kan meeding met ingevoerde melkprodukte.
Hierdie stelling stel in ’n groot mate die kwesbare posisie van die plaaslike melkboer bloot. Veels te dikwels word die verlies aan ’n behoorlike winsmarge onder melkverwerkers en kleinhandelaars na die melkboer teruggedruk deur verlaagde plaashekpryse vir melk.
Dit is een van die belangrikste redes waarom soveel boere in die onlangse jare opgehou het om melk te produseer. Diegene wat nog voortgaan, besef die enigste manier om te oorleef, is om die skaal van hul bedryf te vergroot (wat dikwels verkeerdelik gebruik word as bewys van toenemende konsentrasie).