
Die hoogste prys vir ’n ram was vir ’n Kaapse Lob Ear van mnr. Schalk van der Walt, een van die veteraantelers van inheemse bokke van die plaas Gelykfontein, suid van die Gariepdam. Die R100 000 wat mnr. Nico Lerm van die wildonderneming Lasarus by Albertinia vir die ram opgedok het, is ’n rekordprys vir dié kleurgroep. Nog ’n Kaapse Lob Ear-ram is vir R52 000 verkoop. Die vorige rekord was R40 000.
Lerm se wildonderneming het ook ’n rekordprys van R60 000 vir ’n Kaapse Lob Ear-ooi met lammers betaal. Die vorige hoogste prys was R34 000. Die verkoper is me. Ronell Retief van Richmond. Die bod van R14 000 vir ’n Mbuzi-ram het die rekordprys met R1 000 verbeter.
Mnr. Gerhard Lourens, ondervoorsitter van die IVG wat die veiling gereël het, sê die vraag na gehaltediere was die beste tot dusver. Dit het tot dié goeie pryse gelei.“Die grootste pluspunt vir die inheemse bokke is dat hulle een van die vrugbaarste veerasse is wat jaarliks die meeste lammers per ooi oplewer,” sê Van der Walt.
Die gemiddelde pryse vir die Kaapse Lob Ear-bokke was R28 571 (stoetramme), R20 300 (stoetooie met lammers), R11 398 (dragtige stoetooie), R9 667 (niedragtige stoetooie), R3 750 (kudderamme), R9 000 (kudde-ooie met lammers) en R6 500 (dragtige kudde-ooie).
Die gemiddelde pryse vir Kaapse Skilderbokke was R8 556 (stoettramme), R5 688 (stoetooie met lammers), R5 724 (dragtige stoetooie) en R5 750 (niedragtige stoetooie).
Die gemiddelde pryse vir Mbuzi-bokke was R7 000 (stoettramme), R5 156 (stoetooie met lammers), R4 500 (dragtige stoetooie) en R5 800 (niedragtige stoetooie).Vleissentraal Bloemfontein het die veiling aangebied en mnr. Allan Sinclair was die afslaer.