
Natter toestande in dele van die Oos-Kaap het gelei tot die uitbreking van insekoorgedraagde siektes onder beeste soos drie-dae-stywesiekte, met enkele gevalle van knopvelsiekte wat ook aangemeld is.
Volgens dr. Waldo Dreyer, ’n veearts met ’n praktyk in Kenton-on-Sea, was daar van begin tot middel Desember verskeie gevalle van drie-dae-stywesiekte teen die kus in die omgewing van Kenton-on-Sea.
“Boere het onmiddellik ingeënt. Die uitbreking het ons effens onkant gevang aangesien die siekte gewoonlik in die laatsomer tot herfs eers kop uitsteek.”
Hy vermoed die uitbreking het voorgekom weens die vroeë reën in die gebied. Die siekte word deur muskiete oorgedra. Vanweë die nat toestande is daar baie bogrondse water waarin die muskiete kan uitbroei.
Volgens Dreyer is daar nou weer ’n erge uitbreking van die siekte van Kenton-on-Sea tot by Kookhuis, Golden Valley en so ver soos Fort Beaufort.
Hy bevestig dat enkele uitbrekings van knopvelsiekte langs die kus waargeneem is, met meer gevalle in die binneland naby Grahamstad. Dié insekoorgedraagde siekte is ook ’n virusinfeksie is. Vrektes kan daarom baie hoër wees as met drie-dae-stywesiekte.
Hy sê hoewel dit moeilik is om Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) se entstowwe vir albei siektes te kry, is daar goeie entstowwe vir albei vanuit die private sektor beskikbaar.
Me. Leonie Yendell, ’n beesboer by Makhanda, sê daar was verskeie gevalle van drie-dae-stywesiekte in haar kudde en in die kuddes van opkomende boere in haar omgewing vir wie sy raad gee. Sy sê dit lyk of die uitbreking einde se kant toe staan. “Ons het geen diere verloor nie, maar meer as 100 diere was siek. Dit lyk asof die virusstam gematig is.”
Geen OBP-entstof
Sy sê hoewel daar entstowwe van private bronne beskikbaar is, is daar geen entstowwe van OBP by die staatsveearts beskikbaar nie.
“Ons kan nie bekostigbare entstowwe kry nie, veral nie die opkomende boere nie. Dit is ’n groot probleem met ander siektes ook. Ons hoor van gevalle van knopvelsiekte en ons is baie bekommerd daaroor, want dit is ’n slegte siekte met langtermyngevolge.”
Sy sê die een voordeel van drie-dae-stywesiekte is dat diere daarna lank immuniteit teen die siekte het. Die laaste uitbreking van die siekte in haar kudde was in 2005 tot 2006, maar ander boere in die omgewing het in 2015 uitbrekings aangemeld.
Die streek het ’n sewe jaar droogte ervaar, en sy glo die uitbreking is weens die natter toestande vanjaar. Benewens die muskietoorgedraagde siektes is bosluisoorgedraagde siektes soos Afrika- en Asiatiese rooiwater ook ’n groot probleem weens die groot getalle bosluise.