
Dié gesogte geleentheid vir die suiwelbedryf, wat sedert 1834 deur Agri-Expo aangebied word, erken en beloon die gehalte van suiwelprodukte van groot, mediumgroot en klein vervaardigers. Die kampioenskap bestaan uit tien kategorieë en meer as 100 klasse vir suiwelprodukte. Die kaaskategorie is die grootste en meer as die helfte van die inskrywings is kase.
Die kampioenskap lok jaarliks sowat 900 inskrywings van vervaardigers wat meeding om die titel van SA kampioen en die produk van die jaar, en die Qualité-merk van gehalte.
Die suiwelprodukte word beoordeel deur sowat 60 kundiges wat die voorkoms, tekstuur en geur van produkte in tien kategorieë evalueer. Die wenner in elk van die meer as 100 klasse ontvang die SA kampioen-toekenning, terwyl slegs ’n paar uitstekende produkte die Qualité-merk ontvang. Ná die eerste ronde van die beoordeling wys ’n paneel van vyf onafhanklike spesialiste die produk van die jaar aan.
Aanlyn inskrywings vir vanjaar se kampioenskap is reeds by www.cheesesa.co.za beskikbaar. Die sluitingsdatum vir inskrywings is Vrydag 24 Maart. Die beoordeling vind op Donderdag 20 en Vrydag 21 April by Eensgezind buite Durbanville plaas, waar die SA suiweltoekennings op Donderdag 25 Mei oorhandig word.
Volgens mnr. Breyton Milford, hoofbestuurder van Agri-Expo, is die doel van die jaarlikse kampioenskap om uitnemendheid in die plaaslike suiwelbedryf te erken en te bevorder. “Agri-Expo is trots op hierdie mylpaal en sien daarna uit om die suiwelbedryf vir nog baie jare te dien, aangesien hierdie kompetisie die maatstaf geword het vir produsente om hulself teen mekaar te meet.”
Laai die Landbou.com-app af en lees jou landbounuus direk op die app. Dié app is beskikbaar in die Apple-, Android- en Huawei-winkels.