Swartgebrande veld so ver as wat jy kan sien. Meer as 1 000 diere – waarvan sommige binnekort sou lam en kalf – wat vir die volgende paar maande gevoer moet word.
Dít was die gesig wat mnr. Jaco Burger (34) van die plaas Eureka by Wepener verlede jaar op 4 September begroet het ná ’n verwoestende veldbrand, aangedryf deur ’n stormsterk wind, binne ’n uur oor sy plaas geswiep en feitlik al sy weiveld vernietig het. Die vlamme wat twee keer oor die teerpad gespring het, het dakhoogte gebrand en is meters van die plaashuis af gekeer.
“As iemand daardie dag vir my gesê het dat ek oor ’n paar maande as Vrystaatse Jongboer van die Jaar aangewys sou word, sou ek dit skaars kon glo,” sê Burger ’n paar maande later. Vir hom het dit ’n somer van milde seën geword.