
Die styging van mieliepryse is een van talle faktore wat ’n warboel in die plaaslike en internasionale varkbedryf veroorsaak, sê dr. Pieter Grimbeek, hoofveearts by Agri Farmacy. Voeg daarby droogte in onder meer Argentinië, Amerika en Europa, die onverwagse inval van Rusland in Oekraïne en die onbeheerde uitbreiding van die plaaslike varkbedryf en dit lyk al hoe meer of die bedryf homself in ’n perfekte storm bevind.
Die situasie word vererger deur ’n abnormaal hoë aanbod van varkvleis weens uitstekende verbeteringe in reproduksie en die onverskillige invoer van veral hoendervleis.
“Daar is geen twyfel dat varkprodusente, nie net in Suid-Afrika nie, maar ook ander lande, moeilike tye ervaar. Ouer en kleiner produsente is gereed om hul deure te sluit,” sê Grimbeek.
“Die wydverspreide ontbinding van kuddes kan egter lei tot ’n ooraanbod op kort termyn wat die mark onder selfs meer druk kan plaas, en op mediumtermyn tot tekorte kan lei. Hierdie wisselvalligheid maak dit onmoontlik om varkvleispryse te voorspel.”
Hoë voerkoste
As gevolg hiervan oorweeg varkprodusente tans elke uitgawe om te verseker dat hulle die moeilike tye oorleef. Grimbeek raai produsente aan om veral te verseker dat hulle so doeltreffend as moontlik produseer en maniere vind om hoë voerkoste teen te werk.
“Weens stygings in voerkoste toon min produsente positiewe winsmarges. Kleiner, en veral opkomende, produsente wat hul diere uit sakke voer, het bykans geen kans teen gevestigde produsente wat self voer kan meng nie. Selfs die beste van dié produsente bereik tans net-net hul winsdrempel.”
Hy sê aangesien daar in Suid-Afrika bykans geen alternatief tot mielies as energiebron is nie, moet onder meer voergraadkoring en soetgraansorghum soms ’n gedeelte of al die mielies in varke se rantsoen vervang. Dit is dalk goedkoper, maar is volgens hom nie altyd ’n wyse roete om te volg nie.
“Hoewel moderne, komplekse kruip- en speenrantsoene duur is, word die korrekte en beheerde toepassing van hierdie rantsoene vir jonger diere aanbeveel sodat hul volle genetiese potensiaal ontsluit kan word.”
Hy moedig produsente aan om voerbymiddels te heroorweeg aangesien dit voerkoste verder die hoogte in kan jaag. Hy voeg by dat produsente outomatiese voerders moet gebruik aangesien tot 6% van voer gemors kan word as met die hand gevoer word.
Sogproduksie is volgens Grimbeek van deurslaggewende belang. Hoe beter sôe produseer, hoe laer sal die vaste koste van produksie vir elke dier wees. Hy voeg by dat as varke op 100 g swaarder gespeen kan word, kan hulle ’n dag vroeër bemark word.
Verbruikers se behoeftes
Grimbeek sê die bedryf moet oorweeg of dit heeltemal in verbruikers se behoeftes voorsien. “Verbruikers is die mense wat in die winkel voor die yskas staan en moet besluit of hulle varkvleis gaan koop of nie. Dit is die mense wat gemoedsrus wil hê en varkvleis gereeld moet koop sonder om daaroor te twyfel.”
Volgens hom was daar in die verlede hoofsaaklik drie kwessies met die bemarking van varkvleis. Eerstens, dat dit te veel vet bevat. Moderne teling het dit oorkom en ironies genoeg is varkvleis vandag vir sommige verbruikers te maer.
Nog ’n kwessie is dat die kleur van die vleis onvoorspelbaar is, veral wanneer varke se vleis weens PSE-sindroom bleek, sag en waterig vertoon. Die reuk van varkvleis, veral van manlike diere, kan ook verbruikers se keuse daaroor beïnvloed.